Ons herder

Wynand Nel

Wynand vertel:

Sedert 2008 is ek as leraar betrokke by die Kruiskerk Gemeente, `n klein Skiereilandse geloofsgemeenskap. In 1984 het ek my bediening as predikant by die NG Gemeente van Mosselbaai-Suid begin en was van 1990 tot 1999 leraar van Tamboerskloof in die Kaapse Stadskom.

In dieselfde jaar het ons gesin Stellenbosch toe verhuis. Ek het die droom gehad om ‘n retraite, `n plek waar mense in `n rustige omgewing geloofswaarhede kan oordink, te vestig. My plan was ook om verder in die vakgebied wat in eredienste (Liturgie) spesialiseer, te studeer. Die perseel was in die skilderagtige Jonkershoekvallei, langs die dorp se bekende Eersterivier, geleë. Drome word egter nie altyd werklikhede nie en, vanweë regulasies rondom vloedhoogtes, kon daar nooit toestemming verkry word om verdere geboue op te rig nie.

In 2001 het my pad terug na gemeentebediening hervat toe ek aangestel is in ‘n permanente, deeltydse pos as leraar met hoofsaaklik pastorale verpligtinge by die Stellenbosch Moedergemeente. Ek het ook ‘n aantal preekbeurte in die statige ou Moederkerk waar ek Zorada Temmingh se wonderlike orrelbegeleiding kan geniet.

In 2002 was Terblanche Jordaan die stigtersleraar van Kruiskerk. Hy het in 2008 ‘n ander beroepsmoontlikheid gevolg en my genader om die destydse Kruiskerk Gemeente te ontmoet. Dit het gelei tot my aanstelling as leraar deur die leierskap van Kruiskerk.

Kort na my diensaanvaarding het ons aanbiddingsadres na Pinelands se NG-kerkgebou verskuif, waar ons elke Sondag om 11:00 bymekaar kom vir ons eiesoortige erediens/byeenkoms.

Ons aanbidding vind plaas in die eenvoudige ritueel van gebed, skriflesing, prediking en gesprekvoering tussen die gemeentelede. Omdat ons selde meer as 30 mense in die erediens is, word gesprekvoering in ’n informele atmosfeer aangemoedig en vorm dit ‘n baie sterk eienskap van ons byeenkomste.

My teologiese denke verskil vandag baie van dié waarmee ek in 1981 die Kweekskool verlaat het. My eenvoudige credo sou iets wees soos:

  • Ek glo in Jesus as die Misterie deur en in wie God Hom/Haar bekend maak deur die voortdurende werk van die Heilige Gees.
  • Ek glo dat ons geroep/genooi word om die liefdevolle, geregtigheidsvormende, grensoorskrydende, nie-veroordelende, dienende, opofferende, vergewende en helende lewe van Jesus Christus te leef omdat Hy ook deur Sy Gees in ons teenwoordig is.
  • Ek glo dat gemeentes noodsaaklike gemeenskap tussen mense stig.
  • Ek glo dat gemeentes in ‘n gerigtheid tot diens aan ander moet bestaan.

Ek dink nou anders oor uitverkiesing, sondeval, bekering, straf, veroordeling, verlossing en soenoffer. Ek soek na ‘n ander manier om die lewe van Christus te verstaan en in hierdie opsig is al ons Kruiskerkers saam op reis.

Ek vermoed dat my denke en preke as vrysinnig beskou kan word.

Die manier waarmee ek/ons met die Bybel omgaan, is ook anders. Soos in die woorde van Martin Luther, glo ek dat die Bybel die Woord van God is in soverre dit ons geloof in God opbou en versterk. Dit is ‘n heilige boek wat in ‘n sekere sin telkens herskryf word deur elkeen wat iets daarvan probeer verstaan en uitleef.

Dis ‘n voorreg om deel te wees van Kruiskerk. Dit bied ‘n tuiste vir mense wat waarskynlik ‘n naïewe manier van glo, verloor het, maar bereid is om die moeilike pad van vraende geloof saam aan te durf. Ons leer by mekaar se insigte en ervaringe. Kruiskerk is ‘n dialoog tussen almal wat hier aanbid. Dit is egter ook ‘n oop vriendekring. Ons gee om vir mekaar.

Ek woon op Stellenbosch, is enkellopend en die pa van twee pragtige jong dames wat as Maties studeer.

 

Kontak Wynand per e-pos of bel hom by 082 901 5877.