Welkom by Kruiskerk

‘n gespreksgemeente sonder grense

Wie is ons?

Ons is ‘n onafhanklike, Afrikaanse, Christelike gemeente sonder grense. Jy mag vra, wat beteken ‘n kerk sonder grense?  Antwoorde op die vrae wat volg behoort in hierdie konteks groter duidelikheid te bring.

Waar is ons?

Die gemeente is aanvanklik in Kaapstad in 2002 gestig, maar sedert Covid is ons nie beperk tot een fisiese gebou nie. Ons vergader weekliks aanlyn en gebruik tegnologie soos Zoom en YouTube vir ons interaktiewe diens en gesels. Die meeste van ons lede skakel in van verskillende provinsies in Suid-Afrika, maar daar is ook verskeie mense wat oorsee bly en vanaf verskillende kontinente inskakel.

Wat is die formaat?

Enigiemand is welkom, ongeag kerkverband. Ons waardeer en respekteer die andersheid van mense en hul sienings, en is dankbaar wanneer dit in ons samestelling weerspieël word. Ons lees die Bybel onbegrensd, krities en ondersoekend en aanvaar dat dit ‘n Heilige Bron is van waaruit ons besin oor veral die lewe en woorde van Jesus Christus, maar dat dit deur mense geskryf is.

Oop gesprekke en saamgesels oor geloofsake vorm deel van ons weeklikse erediens na die prediking en skep ‘n ruimte vir vrydenkende, nie-voorskriftelike perspektiewe en bevraagtekening.

Waar is ons betrokke?

Ons belê in verhoudings eerder as strukture. Ons deel in mekaar se lief en leed as ‘n gemeenskap van Kruiskerkers oor die wêreld heen, maar ons bou ook verhoudings buite kerkverband deur God se liefde uit te dra na individue in nood en deur welwillendheidsorganisasies te ondersteun. Frederick Buechner verwoord ons filosofie as hy sê – “The place God calls you to is the place where your deep gladness and the world’s deep hunger meet.”

Is ons geloof relevant?

In ‘n moderne wêreld met snelle verandering, respekteer ons die eeue van Christelike tradisie en bepeinsing terwyl ons nuut en dinamies probeer besin vanuit vandag se leefwêreld en vraagstellings oor God, mens en wêreld.

Hoe raak jy betrokke?

Ons verwelkom graag nuwe lidmate. As jy sou belangstel om in te skakel of sommer net ‘n slag wil kom inloer by ons eredienste, kontak Wynand Nel, ons leraar/herder by wynandgnel@outlook.com of info@kruiskerk.co.za.

Die zoom-diens skakel word weekliks uitgestuur vir die diens wat plaasvind om 10:30 Suid-Afrikaanse tyd elke Sondag.

Kruiskerk is ‘n dialoog tussen almal wat hier aanbid en saam besin om sinvol te leef as navolgers van Christus.