‘n Mens wat ‘n slaaf van gewoonte geword het,
wat elke dag dieselfde pad stap,
nooit die pas versnel of iets nuuts waag nie,
nie ‘n eie mening het of dinge ten volle ervaar nie …
hy sterf ‘n stadige dood.
Hy wat geesdrif vermy, alles swart op wit wil hê,
gevoelens wat die oë laat glinster en die hart laat bons, versmaai, nie kan lag oor menslike foute nie …
hy sterf stadig.
Hy … of sy …
wat nie van ’n probleem ‘n uitdaging kan maak nie,
halfpad tou opgooi, nie vrae vra om meer te weet nie,
nooit die sekerheid vir die onsekere verruil om ‘n droom te volg nie …
hy sterf stadig.
Hy wat nie reis nie, nie lees nie, nie luister nie,
wie se arbeid nie sy hart verbly nie,
wat nie vrede het of goedheid in homself vind nie …
hy sterf stadig.
Hy wat sy eie vertroue vernietig, nie hulp kan aanvaar nie,
oor alles pieker en kla, die reën wat nie ophou of die son wat nie skyn nie …
hy sterf stadig.
Om waarlik te leef, is veel meer as asemhaal …
dis om vurig en hartstogtelik mens te wees.
Pablo Neruda: Die Slowly – Selected Poems
Afrikaanse verwerking: Marie de Kock