J.C. (Kay) de Villiers
Evolusie, Wetenskap en Geloof deur Jaap Durand
‘n Biografiese inleiding tot die denke van Teilhard de Chardin
Dit is selde dat ‘n mens tot ‘n boek aangetrokke voel vanweë die belofte wat die titel inhou en, wanneer dit klaar gelees is, neersit met so ‘n effense gevoel van jammerte vanweë ‘n stimulerende belewenis wat skielik beëindig word. Daarmee saam is daar ook die besef dat jy uit hierdie werk meer geput het as wat jy kon verwag het. Dit was my reaksie by die lees van hierdie heel besondere werk. Ek het van Teilhard de Chardin geweet met sy besoeke aan hierdie land en besit etlike van sy werke. Hierdie bondige biografiese studie was vir my egter ‘n openbaring en so was ook die skrywer se insiggewende stelling van die standpunt van die redelike en begrypende gelowige.
Die skrywer dui self sy doel met die skryf van hierdie werk aan: “Die bedoeling van hierdie boek is nie om enige uitvoerige kritiek op Teilhard de Chardin se denke en lewe te lewer nie . Die doel is eerder om hom in Suid-Afrika bekend te stel, spesifiek onder Afrikaanssprekendes. Dit binne die konteks van die ingrypende en tans weer aktuele vraag na die verhouding tussen die Christelike geloof en wetenskap veral wat evolusie betref.”
Die werk is verdeel in vier afdelings:
Vooraf. Wetenskap en geloof. Hierdie hoofstuk is geskryf om aan te dui hoe aandag aan die problematiese verhouding tussen wetenskap en geloof gegee kan word. “(S)onder om weer stofgetrapte paadjies te bewandel en te sê wat almal dink jy behoort te sê, of selfs nie te sê nie.” Waarom word hierdie aangeleentheid benader vanuit die perspektief van die lewe van Teilhard de Chardin? Die outeur dui in die volgende afdelings aan hoe hierdie besondere katolieke priester sy lewe gewy het aan die ontrafeling van die vrae wat rondom die probleemverhouding tussen wetenskaplikes en gelowiges ontstaan het.
Die swerwende monnik, wat die grootste gedeelte van die boek vorm, word gewy aan ‘n simpatieke biografiese studie van Teilhard de Chardin. Dit vertel van die ontwikkeling van sy denke as natuurwetenskaplike van formaat en diep gelowige en mistiese Christen-teoloog wat poog om ‘n sintese tussen die evolusieleer van sy tyd en die Christelike teologie te bewerkstellig. Dit was ‘n eensame pad, want hy het gebots met die denke van sy kerk waaraan hy teen elke prys lojaal was. Dit is moeilik vir die leser as buitestaander om die eensaamheid van hierdie besondere gelowige te begryp. Sy werk en strewe is deur die leiers van sy kerk nie begryp nie en aan bande gelê deur hul verbod op die publikasie van sy werk. Die populariteit wat hy as denker en spreker geniet het, het vir die Katolieke kerk so ‘n verleentheid geword en hy in 1923 deur die kerk uit Frankryk na Sjina verban is. Hy gebruik egter dié geleentheid om met sy paleontologiese navorsing voort te gaan, want sy wetenskaplike werk lei hom ook tot verdieping van sy Godsbesef. Na ‘n kort terugkeer na Frankryk is hy in 1928 weer terug in Sjina en hy word betrokke by die ontdekking en vroeë beskrywing van Sinanthropos.
Vir die duur van die Tweede Wêreld Oorlog is Teilhard nog steeds in Sjina en uit kontak met alles wat in Frankryk gebeur met sy familie, vriende en kollegas in daardie tydperk. Aan die einde van die oorlog word hy toegelaat om na Frankryk terug te keer. Nooit was hy aan sy Orde, die Jesuïete, of aan sy kerk ongehoorsaam of ontrou nie. Met sy wetenskaplike publikasies en sy populariteit as spreker oor teologiese sake, bly hy vir die Katolieke kerk ’n verleentheid en vanaf 1951 is hy weer ’n banneling, hierdie keer in die VSA. Hy leef en werk vanaf hierdie basis tot sy sterwe op Paassondag 1955.
Die naskrif: Skepping en Evolusie is die laaste hoofstuk. Indien daar potensiële lesers sou wees, veral dié wat tot die gelowige kategorie behoort, wat hierdie werk opsy wil sit, sou ek hulle wou aanraai om net hierdie laaste hoofstuk te lees. Indien dit hul leeslus sou prikkel, sal ek voorstel dat hulle hierna hoofstuk een ook probeer.
Vir enige leser wie se belangstelling geprikkel is, is daar uitstekende Notas en verdere leesstof in ‘n belowende ontdekkingstog.
Miskien is ek bevooroordeeld in die sin dat ek in die jare toe ek met anatomie en elementêre paleontologie doenig was, saamgewerk het met mense wat geen stryd ondervind het tussen hul wetenskaplike kennis wat van onbetwisbare hoë standaard was en hul deurleefde geloof nie. Hulle moes soms skerp kritiek van ‘n onsimpatieke kerk verduur en een van hulle het die uittog van Wetenskaplikes as lidmate uit die NG Kerk voorspel.
Ek wil Prof Durand gelukwens met hierdie meesterlike hantering van ‘n netelige onderwerp en sy bekendstelling van ‘n uitstaande Katolieke gelowige en wetenskaplike aan Afrikaanssprekende lesers.
Durand, J. 2013. Evolusie, Wetenskap en Geloof. Wellington: Bybel-Media.