Daaglikse Keltiese gebed van die Northumbriese Gemeenskap

Vandag vertrou ek my toe aan
die magtige Naam van die Drie-eenheid
deur gebed aan die Drie-in-Een
en die Een-in-Drie.

Vandag vertrou ek my vir ewig toe aan
die krag van geloof, aan Christus se menswording;
sy doop in die Jordaanrivier;
sy dood aan die kruis;
sy opstanding uit die graf;
sy opvaart na die hemel;
sy wederkoms in die laaste dae.

Ek vertrou my toe aan
die krag van die liefde;
die saligmaking in die uur van oordeel;
die regverdiges se geloof, die apostels se woorde,
die patriarge se gebede, die profete se perkamentrolle,
en al die goeie dade vir die Here.

Ek vertrou my toe aan
die heerlikheid van die sterverligte hemel,
die skitterende son se lewe-gewende strale,
die skoonheid van die maan,
die flitse van die weerlig,
die warrelende wind se onstuimige vlae,
die vaste aarde, die diepe oseaan
en die ewigheid van die berge.

Ek vertrou my toe aan
die krag van God om my te koester en te bewaar,
sy oog om te waak, sy mag om te behou,
sy oor om na my nood te luister;
sy wysheid om my te leer,
sy hand om te lei, sy skild om te beskerm,
die sy woord om my spraak te rig,
sy heerskare om my wag te wees.

Christus, wees met my,
wees in my, agter my, voor my, langs my.
Vertroos en versterk my.
Christus, wees bo my, onder my,
in die stilte en in enige gevaar.
Wees in die harte van almal wat my lief het,
wees in die stem van vriend en vreemdeling.

Ek vertrou my toe aan
die magtige Naam van die Drie-eenheid
deur gebed aan die Drie-in-Een en die Een-in-Drie,
deur wie die ganse aarde geskep is,
ewige Vader, Gees en Woord.
Lofprys die Heer van verlossing,
Christus, my Leidsman.

Die deernis van God is met my,
die God van liefde.
Die deernis van Christus is met my,
die Christus van liefde.
Die deernis van die Gees is met my,
die Gees van Genade.
Die deernis van die Heilige Drie is met my,
dit beskerm en bewaar my.

Amen

Afrikaanse verwerking: Marie de Kock