Gebed vir Sondag ná Paasfees

Gees van ewige Lewe, ons kom op hierdie Sondag ná Paasfees saam om ons te verheug in die ontvouende wêreld om en in ons;
die verandering in die kleur van die herfsblare,
die vriendelike woorde wat goedheid of vertroosting inhou,
die gees van goedhartigheid in onverwagte oomblikke.

Ons kom om ons te verbly, maar ons bring ook ons besorgdhede, oor ons gesinne, ons gemeenskap, ons land en ons wêreld.

Ons onthou die lesse van Jesus wie se woorde en dade van die uitreik van onvoorwaardelike liefde gespreek het.

Ons erken dat ons hunker om deur so `n liefde geraak te word, maar dat ons nie altyd gereed is om dit te ontvang of te gee nie.

Mag op hierdie Sondag die dinge wat ons belas, weggeneem word;
wanneer ons bang is, bemagtig ons met moed en hoop om te doen wat ons moet doen,
wanneer ons faal om berusting of vrede te vind, gee ons deernis met ander wat ook soms misluk.

Ons erken dat ons nie altyd tyd vind om die mooi dinge wat ons wêreld inhou, te soek nie;
dat ons die skoonheid ignoreer en onsself die vreugde en genot daarvan ontneem.

Op hierdie Sondag vra ons dat ons sintuie wakker sal wees …
as ons dinge oordink, mag ons mooi herinneringe hê en mooi herinneringe nalaat,
as ons onthou, mag ons antwoord op die skoonheid, die harmonie, die geur, die smaak en die tekstuur van die lewe self, van die nou- en die hier-wees,
dat ons die gawe van die lewe self, sal vier.

Mag ons die bron van Lewe in ons en om ons toelaat om ons alledaagse doen en late te verander en te veredel ….

Dit is ons gebed.

Amen

R. Hunt

Afrikaanse verwerking: Marie de Kock