Ou Ierse seëngebed

Mag jou pad gelyk en reguit loop,
‘n bries teen jou rug, jou hart vol hoop.
Mag die son jou siel verbly,
die reën sag sif oor jou land.
En, tot ons weer ontmoet,
hou God jou in Sy hand.

Afrikaanse verwerking: Marie de Kock

Gebed van ‘n seeman

deur Francis Drake

Keer ons, Heer
as ons te ingenome raak met onsself;
as ons drome waar word, omdat ons te gewoon droom;
as ons aankom, omdat ons te ná aan die land, té veilig
gevaar het.

Keer ons, Heer
as die baie wat ons besit, ons dors na lewenswater les;
as ons, in liefde vir die hede, die ewige vergeet;
as ons, in ‘n poging om ‘n nuwe aarde te skep, die
visie van ‘n hemel laat verdof.

Help ons, Heer
om groter te durf droom, om wyer seë te verken,
om ons sig van land te verloor, sodat ons die sterre kan
sien.

Verskuif ons horison, verhoog ons hoop en stuur ons met moed en mededoë U toekoms in.

In die naam van Jesus Christus.
Amen.

Vrye vertaling: Marie de Kock

Gebed – Koos du Plessis

Laat my nooit die grond verlaat nie.
Laat my in U skadu bly.
Gee dat elke aardse vreugde en vrees
eindelik nietig word vir my.

Elke afdraai paadjie ken ek.
Elke keer het ek verdwaal.
Elke keer het U my iewers kom haal.
Maak dit Heer, die laaste maal.

Elke dag is ‘n gedagte.
Elke kamer net gehuur.
Elke aardse droom van rykdom en roem,
net ‘n skadu teen die muur.

Wat ek is, is net genade.
Wat ek het, is net geleen.
Eintlik smag ek na U waters van rus.
Lei my, Heer, vanaand daarheen.

Koos du Plessis

Seën ons land

Seën ons pragtige land, o Here God,
met sy wonderlike verskeidenheid van mense
uit verskillende rasse, tale en kulture.
Maak ons u reënboognasie
van vreugde en hoop,
van geregtigheid en versoening,
van vrede en eenheid,
van medelye, deernis en vergifnis.
Ons bid hierdie gebed vir ware eenheid
in die kragtige Naam van Jesus, ons Here.

Gebed van emeritus-aartsbiskop Desmond Tutu by die inhuldiging van oud-president Nelson Mandela in 1994

Naude, P., 2008. Die groot gebedeboek. Lux Verbi.

Gebed vir dié in die wêreld

Sheila Cussons

Dat ons leef omdat U leef is die eerste
van alles wat wonderlik is.
’n Wisselvloei is daar tussen U en ons.
U vloei in ons in en ons in U, en in U word
ons arme vog gesuiwer en vernuwe,
en ons self keer uit U terug in ons in
deur die membraan wat tyd en wêreld is.
Membraan of illusie, so dun is dit, so nie,
so nêrens vir u begenadigdes —
dankie dat ons wat onsself versteek vir ons naastes
gans oop is vir U en U oop.
Dankie vir die gladder as asemhaling heen en weer
tussen U en ons; dat tyd en ewigheid
mekaar deurdring, nie twee is nie maar een.
Dankie God, vir dié wonder, waarin die harde seer
wat wêreld is, sagter as asem oplos en verdwyn.

Cussons, S., 1984. Membraan. Kaapstad: Tafelberg.