Op Driekoningedag

Liewe Heer

Ons kom as mense wat nog in donkerte verkeer;
diepe duisternis omvou ons,
want ons is omring van onsekerhede,
vrese,
bruutheid,
geweld,
verlies,
vervreemdinge wat ons nie kan beheer nie.

Ons is – en wil – mense van U lig wees.
Ons vra die lig van U heerlike teenwoordigheid,
terwyl ons op U openbaring wag.
Ons vra die lig van U wonderbare verskyning,
want ons is vermoeid van ons menslike pogings
om die lewe se uitdagings te trotseer.
Ons bid om innerlike krag en geestelike vernuwing,
sodat ons lewens sinvol sal wees.
Ons bid dat ons U heilige wil sal sien en daarop sal vertrou.

Ons vra die sterkte, die moed en die vryheid om
ondanks die eise van elke dag, U wil na te kom.
In vreugde en vertroue gee ons ons aan U oor.

Amen

Afrikaanse verwerking: Marie de Kock