Hoe sou ons

Ons Vader wat in die hemel is, hoe sou ons tog die wonder van u skepperhand kon bespeur in die eenvoud van ’n haselneut, in die wonder van alle lewe, in die belofte van elke nuwe oggendskemer, in die rustigheid van elke aand wat daal?

Hoe sou ons u krag kon sien in die weerlig en die donder, u grootsheid in die oseane wat eindeloos voor ons uitstrek en die berge wat hoog bo ons uittroon?

Hoe sou ons tog u voorsienige sorg kon ontdek in die blomme van die veld en in die voëls van die hemel?

Hoe sou ons kon hoor hoe u trou bely word in die dankbare brul van die leeus en die sagte drup van die eerste reëns?

Hoe sou ons u heiligheid kon ervaar in die roetine en verveling van elke dag, u geregtigheid te midde van die onreg en die leed van die lewe?

Hoe sou ons u troos kon aanvoel as sorge ons keel en vrees ons hart beklem?

Hoe sou ons die geheimenis van u liefde kon ervaar in die grootsheid van die mens, in die onbeskryflike wonder wat onsself is?

Here, onse God, hoe sou ons tog u eie aanwesigheid by ons kon gewaarword in die doodgewone van elke dag, die stukke van u hemel in die gebrokenheid van ons aardse verblyf – as U nie Uself aan ons openbaar nie?

As U nie self onder ons kom woning maak nie? As U nie in stilte in ons harte fluister nie?

Amen.

Dirkie Smit het hierdie gebed aangehaal in die rubriek Geestelike Waardes in Die Burger met die titel “Oor woorde as wonderbare geskenke”. Lees die volledige berig hier.