Klara Majola

Hannie de Vries

Gister het Wynand oor helde en anti-helde gepreek. Skielik wou almal saam praat en het iets te sê gehad oor geestelike-, oorlogs-, vrede- en kinderhelde. Klara Majola het ter sprake gekom en van ons ouer lidmate het sommer die gedig van Opperman begin voordra (al was dit net in die gedagte).

Wie was Klara Majola? Het sy werklik bestaan? Toevallig lees ek nou Dana Snyman se bundel kortverhale “Op die toneel”. Daarin vertel hy van sy ontdekkingsreis om uit te vind wie hierdie dogtertjie was en ek deel graag sy bevindings.

Naby Prince Alfred Hamlet is daar ‘n plaas met die naam “Die Eike”. Op hierdie vrugteplaas het, in die winter van 1950, ‘n agtjarige dogtertjie verkluim toe sy na haar blinde pa gaan soek het. Sy, haar ouers, vyf susters en ‘n broer was arbeiders op die plaas en hulle van was nie Majola nie, maar Jansen. Klara se regte naam was ook nie Klara nie, maar Violet. So vertel Klara se bejaarde ouer suster Nan aan Dana. In die omgewing waar byname gedy, was Klara se pa bekend as Majola. Klara Majola was dus byname. Makliker om te onthou, omdat almal Afrikaans gepraat het.

Nan was tien jaar oud toe die tragedie gebeur het. Hulle pa het vantevore blind geword en hy en sy gesin het nog aangebly op die plaas. Hy het gehelp met los werkies en het graag hout gaan soek vir vuurmaak. Hy het die plaas baie goed geken. Die betrokke koue wintersdag het hy weer gaan hout soek en lank weg gebly. Klara het na hom gaan soek en hulle het mekaar mis geloop. Haar pa het later tuis gekom. Dit het begin reën en sneeu en dit het baie koud geword.

Die volgende môre het hulle haar naby ‘n spruit gekry. Sy was reeds verkluim.

Sy is in die kerkhof op die plaas begrawe. Op die sementsteen staan: Klara Majola. Gebore: 14.6.1942. Gesterf: 26.7.1950.

Klara Majola wou haar vader
toe die skemer sak, gaan haal
waar hy, die blinde, hout vergader;
maar Klara Majola het verdwaal.

Klein Klara Majola lê verkluim
in die Bokkeveld se bros kapok,
haar arms en bene bruin
en kromgetrek soos wingerdstok.

Klara Majola, die koue geweld
sif stadiger oor my uit die ruim
maar nooit sal ek in die Bokkeveld
so warm, Klara Majola, soos jy verkluim.

D.J. Opperman

Onlangs lees ek van ‘n beeldhoudster wat graag ‘n beeld wil maak van Klara. Dit moet dan op die plaas of naaste dorp ten toon gestel word. Ek hoop die plan materialiseer. Dit sal ‘n pragtige manier wees om die verhaal te onthou.