Vir Aswoensdag

Regeerder van die nag, Beskikker oor die dag …

Vandag is `n gawe van U, soos geen ander dag
wat U gegee of ons ontvang het nie;
dit straal van goedheid en nuutheid en moontlikhede.
En hoewel ons belas is met die pligte van die alledaagse,
halfpad deur die week,
halfpad tussen take en vergaderings,
tussen besoeke en afsprake,
tussen Sondag en Sondag,
halfuitgeput, halfhartig,
kom ons na U.

Vandag is baie ver van Aswoensdag af,
maar eintlik is al ons dae maar soos as;
ons begin elke dag met die asse
van misplaaste hoop en verbreekte beloftes,
van verwaarloosde mense en vergete trou.
Onsself is maar as tot as, stof tot stof,
in ons menslike sterflikheid.

Ons erken ons nietigheid met hoop in ons harte;
want op elke Aswoensdag volg U Paas-oorwinning
oor die as van die dood.

Ons wy hierdie dag aan U, verheerlik dit.
Gee ons die vreugde, die krag en die moed
van die komende Paasfees.
Seën ons, dat ons in U waarheid kan leef
in genade, geregtigheid, vrede en vrygewigheid.

Ons vertrou op U.

Amen

Walter Brueggemann

Afrikaanse verwerking: Marie de Kock

Verwant:
Marked by Ashes