Vir `n Christen is vriendskap nie iets wat jou toevallig oorkom nie, skryf C.S. Lewis in sy boek Die Vier Liefdes. Christus kan regtig vir elke groep vriende sê: “Ek het julle vir mekaar uitgesoek.”
Die gedagtes wat Lewis in sy essay oor vriendskap verwoord, gaan terug na `n eeue-oue tradisie wat met Augustinus begin het. In `n wêreld waarin die klassieke filosowe alles oor die waarde en rol van vriendskap te sê gehad het, voeg Augustinus `n fundamenteel nuwe en Christelike element by. Net God maak mense vriende van mekaar. Mense kies nie hulle vriende nie; dit is `n geskenk van God en verteenwoordig die daadwerklike genade van God op aarde.
Dié gedagtes neem Lewis oor in sy essay “Vriendskap” in die bundel The Four Loves. Hier volg `n paar aanhalings uit die essay.
Vriend of kameraad
Kameraadskap is `n voedingsbron vir vriendskap. Dit word dikwels vriendskap genoem en baie mense wat van hul vriende praat, bedoel eintlik hul kamerade. Vriendskap in die sin wat ek daaraan gee, is dit nie.
Daarmee wil ek nie afbreuk doen aan die waarde van `n kameraadskaplike verhouding nie. Ons sê tog nie iets slegs van silwer as ons dit van goud onderskei nie.
Kameraadskap kan tot vriendskap groei wanneer twee of meer mense ontdek dat hulle `n bepaalde insig of belangstelling of selfs maar smaak in gemeen het wat ander nie het nie en wat hulle tot daardie oomblik gedink het hulle net met hulleself saamdra.
Dieselfde waarheid sien
In ons tyd is die gemeenskaplike aktiwiteit en dus kameraadskap nie dikwels so fisies soos gaan jag of gaan veg nie. Dit kan `n gemeenskaplike godsdiens, `n studie, `n beroep of selfs `n vryetydsbesteding wees. Almal met wie ons iets deel, is ons kamerade, maar een of twee of drie van hulle wat ook nog iets anders met ons deel, word ons vriende.
By hierdie soort liefde, kry “Hou jy van my?” die betekenis van “Sien jy dieselfde waarheid?” soos Emerson dit stel. Of ten minste: “Heg jy dieselfde waarde aan daardie waarheid?” Die mense wat soos ons voel oor die belangrikheid van `n bepaalde saak waaraan ander skaars dink, kan ons vriende word. En dit is nie eens nodig dat ons met mekaar saamstem oor die antwoord nie.
Vriende maak
Dit is onwaarskynlik dat bejammerenswaardige mense wat net “vriende wil maak”, hulle ooit sal maak. Dat jy vriende het, beteken ook dat jy behalwe die vriende, iets anders wil hê. As `n eerlike antwoord op die vraag: “Sien jy dieselfde waarheid?”, “Ek sien niks nie en dit kan my ook nie skeel nie, want ek wil net vriende maak”, is, dan is vriendskap onmoontlik. Waarheen moet die vriendskap dan lei? `n Vriendskap moet oor iets gaan, al is dit dan nou maar `n gemeenskaplike passie vir kaart speel of wit muise teel. Iemand wat niks het nie, kan nie deel nie en hy wat nie reis nie, kan nie reisgenote hê nie.
Vriendskap en liefde
As twee mense wat so ontdek het dat hulle hul op dieselfde pad bevind, van die teenoorgestelde geslag is, kan die vriendskap wat so ontstaan, maklik oorgaan in erotiese liefde. Sterker gestel, tensy hulle mekaar fisies lelik vind of een van hulle reeds iemand anders lief het, sal dit vroeër of later gebeur. En omgekeerd, erotiese liefde kan lei tot vriendskap tussen die geliefdes. Dit wis egter nie die onderskeid tussen die twee soorte liefde uit nie; in teendeel, dit word net duideliker.
Stel jou voor dat jy so gelukkig was dat jy verlief geraak het op `n vriend en met hom getroud is. Stel jou verder voor jy word voor die keuse geplaas: “Of julle hou van nou af op om minnaars te wees, maar julle bly vir altyd saam om dieselfde God te soek en dieselfde skoonheid te geniet of jy verloor alles, maar behou die verrukking en wonder van die erotiese liefde?”
Wat sou ons kies? En oor watter keuse sou ons die meeste berou hê?
Voorsienigheid
Ons dink dat ons ons geesverwante self gekies het. In werklikheid sou alles en nog wat ons vriendskap kon verhinder het: `n paar jaar verskil tussen ons geboortedatums, `n paar kilometer tussen bepaalde huise, die keuse van een universiteit bo `n ander, die toevallige feit dat in `n geselskap `n bepaalde saak genoem is.
Vir `n Christen is daar, sterk gestel, geen toevallighede nie. Christus wat aan sy dissipels gesê het: “Julle het my nie gekies nie, ek het julle gekies”, kan aan elke groep vriende sê: “Julle het nie mekaar gekies nie, ek het julle vir mekaar uitgesoek.”
Vriendskap is nie die beloning van ons skerpsinnigheid en goeie smaak in die vind van mekaar nie. Dit is die manier waarop God aan elkeen die skoonheid van die ander wys; deur vriendskap open God ons oë. Soos elke ander skoonheid, is dit van God afkomstig. In goeie vriendskap groei die skoonheid deur die vriendskap self. In Sy hand is dit dus`n instrument wat openbaar en skep.
Bron: C. S. Lewis: ”The Four Loves”
Afrikaanse verwerking: Marie de Kock