Ek bekommer my gedurig

Ek bekommer my gedurig, en oor alles …

Gaan die nuwe plantjies groei? Het ons damme genoeg water?
Sal die aarde bly draai soos dit hoort?
Indien nie, hoe kan ék dit reg maak?

Was ek gister reg of verkeerd? Kon ek anders opgetree het?
Sal ek vergewe word?

Word my oë swakker of verbeel ek my?
Gaan ek ook jig kry, of rumatiek
of my naam en van begin vergeet?

In die tuin sing die swartoogsysies …
en skielik besef ek: kommer en knies
help net mooi niks nie.

En ek ruk my ou liggaam reg en loop die môreson in –
`n lied in my hart …

Mary Oliver

Afrikaanse verwerking: Marie de Kock