Gebed

Here, help ons om ten volle bewus te wees van U heilige Teenwoordigheid.
Omvou ons met U liefde.
Laat ons harte een word met U.

Lei ons na die plek van stilte in onsself,
waar ons nie net ons innerlikste wese vind nie,
maar ook verbondenheid aan die kreatiewe en transformerende misterie van wat God is.

Ons kom in mekaar se teenwoordigheid soekende na `n deel van onsself.
Ons weet dat ons nie ten volle kan leef
as ons net vir ons self leef nie.

Ons kom as gewone mense,
elkeen met sy sterk punte en sy swakhede,
bewus van ons tekortkominge.

Ons lewens stel ons voor baie uitdagings
waartoe ons nie altyd in staat is nie;
dikwels skiet ons tekort in ons verwagtinge van onsself.

En tog, hier is ons,
nie perfek nie,
nie altyd verstandig nie,
maar altyd wonderbaarlik en misterieus menslik.

Mag ons saamwees ons nuwe hoop gee.
Mag die verhale wat ons hoor, ons moed versterk.
Mag ons van onsekerheid verander na mense met `n helder wete.
Mag ons van eiegewin verander na mense met ruimhartigheid.
Mag ons van onrustigheid verander na mense met vrede.

God begeer sjalom – vrede,
God begeer geregtigheid,
God begeer heling en heelhartigheid.

Mag ons die wysheid en die moed en die liefde hê
om te volhard, as alles anders ons faal.

Dit is ons bede.

Amen

Afrikaanse verwerking: Marie de Kock