Lofsang van die son (Lofprysing van die skepping)

Hoogste, almagtige Here,
alle lof aan U, alle glorie, al die eer.

Aan U alleen behoort alles;
as mense is ons U naam onwaardig.

U sy gedank deur U skepping,
deur die son, ons broer, wat die dag bring;
U gee deur hom die lig;
hy is stralend pragtig in sy wonderglans
wat U weerspieël.

Lofprysing van die maan, ons suster, en die sterre
in die hemel, skitterend, kosbaar en wondermooi.

Lofprysing van die wind en die lug, ons broers,
en die wolke, die storms, al die elemente
waardeur U die hele skepping onderhou.

Lofprysing van die water, ons suster,
kosbaar, nederig en skoon.

Lofprysing van die vuur, ons broer,
wat die nag verhelder, groots, kragtig en sterk.

Lofprysing van die aarde, ons moeder
wat ons voed en versorg
met plante en vrugte en blomme.

Lofprysing van hulle wat uit liefde vir U, vergewe;
hulle wat siekte en beproewing deurstaan.

Salig is hulle wat in vrede ly;
hulle sal bekroon word.

Wees verheerlik deur ons aardse sterwe van wie se
aanraking niemand ontsnap nie.
Salig is hulle wat in U heilige wil gevind word;
geen dood sal hulle skaad nie.

Lofprysing aan U, ons Here,
ons dank en dien U in alle eerbied.

Amen

Fransiskus van Assisi (1182 – 1226)

Afrikaanse verwerking: Marie de Kock