Ithaka – Afrikaans

Ithaka

Constantine P. Cavafy (1863 – 1933)

Vertaling en herdigting deur Joan Hambidge

Wanneer jy vertrek na Ithaka
Versoek dat jou reis lank sal duur
vol avontuur en aanwysing.
Moenie bang wees
vir die Leistrigone, Siklope
of die woedende Poseidon nie:
jy sal dit nooit vind nie
solank jou gedagtes vlietend is, solank
‘n vreemde gevoel jou gees en liggaam aanraak.
Die Leistrigone en die Siklope,
woedende Poseidon, dié sal jy nooit ontmoet nie,
behalwe as jy hulle koester in jou siel, behalwe as jou siel hulle
oprakel voor jou.

Vra dat jou pad lank mag wees.
Jy het menige somerdagbreek om binne te gaan
-met watter dankbaarheid met watter vreugde-
en hawes om vir die eerste keer te sien:
om te vertoef by die Fenisiese handelsentra
om goeie ware te koop,
pêrel en koraal, amber en eboniet,
sensuele parfuums van elke soort,
oordadig welriekende parfuums soveel as wat jy begeer;
besoek vele Egiptiese stede,
om argiewe vol kennis van geleerdes te versamel.

Bewaar Ithaka vir altyd in jou gedagtes.
Jou aankoms daar is waarvoor jy bestem is.
Maar moet beslis nie die reis aanjaag nie.
Dit is beter dat dit vir jare talm, voortdobber
sodat wanneer jy die eiland bereik, jy reeds oud is,
ryk met wat jy langs die pad verwerf het,
met geen verwagting dat Ithaka jou sal verryk nie.
Ithaka het aan jou daardie skitterende reis gegee.
Sonder haar sou jy nooit begin het nie.
Sy het niks anders om jou aan te bied nie.
En as jy haar arm vind, het Ithaka jou nie mislei nie.
Hoe wys het jy nie uit ondervinding geword nie,
want kyk, jy verstaan al reeds wat hierdie Ithakas beteken.

‘n Paar woorde in die gedig mag toeligting nodig hê:

Die Leistrogone (Laistrogonians, Laestrygones)

‘n Barbaarse ras mensvreters wat Odysseus in sy omswerwing teëgekom het. Die Grieke het hulle aan die ooskus van Sisilië, in die vlaktes van Leontini, geplaas. Vandaar die naam van hierdie streek as die Laestrygonii Campi.

Die Siklope (Cyclops, Cyclopes)

Homeros het hulle beskryf as ‘n ras van wettelose reuse wat as skaapwagters in die oostelike deel van Sisilië geboer het. Hulle was mensvreters wat hulle nie aan Zeus gesteur het nie, maar was kundige veeboere. Elkeen het net een oog in die middel van sy voorkop gehad. Odysseus het die leier van die Siklope, Polyphemus, verblind maar hierdeur vir hom die haat van Poseidon, Polyphemus se vader, op die hals gehaal.

Poseidon

Die god van die see. Die Romeine het hom Neptunis genoem. Hy was ‘n broer van Zeus, maar nie so magtig nie. Hy was woedend vir Odysseus omdat hy Polyphemus, die Sikloop, verblind het en het dit vir Odysseus moeilik gemaak om huiswaarts te reis.

(Toeligting deur Kay de Villiers)

Ithaka in Engels