Kitaar

“La guitarra”, Poema del Cante Jondo 1921

vertaal en verwerk deur Uys Krige

Nou begin die vingers
deur die snare vaar:
vyf donker treurendes
singende altegaar.
Nou begin die klag
van die kitaar.

Die wynkelke breek
van die awendstond.
Hul purper druppels spat
flonkerend in die rond
en die dag bloei dood
soos uit ‘n ope wond.

Die stilte van die skemeruur,
van elke blom en blaar,
die stilte van die eerste ster
en van die slapende snaar,
die stilte diep binne-in die stilte
en hulle roep mekaar.
Nou begin die klag
van die kitaar . . .

Dis nutteloos
om hom stil te maak.
Dis onmoontlik
dat hy sy klag sal staak.
Hy ween eentonig

soos die reën
al meer ween
of die meeu,
soos die wind ween
oor die sneeu.

Hy ween om die hartseer
wat die teerste vesels raak.
Hy ween om die dood
wat oor alle dinge waak.
Nutteloos
om hom stil te maak!
Onmoontlik
dat hy sy klag sal staak!

Hy ween om dinge
ver, ver weg:
die drome, sugte, fluisteringe
ongeseg
van die mens verlore
langs sy eensame weg.

Hy ween om dinge
ver, ver weg:
sand van die warm Suide
wat na die katjiepiering smag,
moerasse van die troebel Noorde
wat op die sonblom wag.
Hy ween om die pyl sonder kol,
boot sonder hawe, vrou sonder kind,
die middag sonder môre,
swerwer sonder vrind,
al die gebede, snikke, krete
wat wegwaai op die wind.

Kitaar, donker kitaar,
o smart van die aarde!
Hart wat deurboor word
deur vyf swaarde . . .

Krige, U. (1987). Verse van Lorca. Kaapstad: Human & Rousseau.