‘n Alledaagse gebed

Geheilig is die skottels en die skoonmaakgoed,
die seep en die wasbak, die koppies en die borde,
warm wolsokkies en koue spierwit teëls,
die saligheid van stortwater en digte, droë handdoeke.

Die geurige bak van die eiers in die pan,
met `n knippie sout tussen my vingers
word deel van `n klein sakrament
so heilig soos elke dag.

Geheilig is die besige strate
met rye motors by die parkeergebou
en die vrou by die slotmasjien
en al die hande wat vandag my hand gevat het.

Swerms voëls word gesange in die lug.
`n Hond grom in sy slaap,
verlore in `n vervlietende droom.

Geheilig is die oorbekende woonkamer
en die stil oomblikke van die laatmiddag.
Die vou van die lakens in my vouende hande
word `n gebed van gestrykte skoonwees.

Ek laat al my vrese val
soos herfsblare onder die bome,
want die somer het gekom en die somer het gegaan
en elke dag was heilig.

Geheilig is my plek in hierdie lewe
om iets goeds – hoe min ook al – te gee.
Elke dag `n skoon bladsy, `n oopgeslane boek
en die wonder van net te wees …

Vanself vertraag ons ons haastige pas
in die sonnigheid van `n onverwagte genade.
Met n dankbare glimlag of met hartseer berou –
heilig is die dag.

Elke nuwe dag beloof Voorsiening,
elke nuwe dag is geheilig.

Amen

Carrie Newcomer (Holy As A Day Is Spent)

Afrikaanse verwerking: Marie de Kock