Ons lewens is gewoon.
Ek lees dit op `n gefrommelde stukkie papier
op `n bank vergete.
Ons lewens is gewoon,
ook filosowe sê so.
Gewone lewens, gewone dae en doodgewone sorge,
`n konsert bygewoon, `n gesprek gevoer,
wandelinge in die buitewyke van die dorp,
goeie nuus, slegte nuus …
maar dinge en gedagtes voel steeds
onklaar, op `n manier amper nes
rowwe sketse, vergete planne …
Huise en bome
wil méér wees.
In die somer bedek smaraggroen velde
die vulkaan-planeet
soos sneeuwit skuim die ewige oseaan.
Donker bioskope smag na lig,
woude haal koorsig asem,
die wolke sing saggies
en `n goue wielewaal fluit-roep die reën.
`n Gewone lewe bly begeer …
Adam Zagajewski (Uit Pools vertaal deur Clare Cavanaugh)
Afrikaanse verwerking: Marie de Kock