Somerdag

Wie het die wêreld gemaak?

Die sierlike swaan, die pronkende pou?
Wie het die sprinkaan gemaak?
Hierdie een wat uit die gras gespring het
en nou suiker uit my hand eet?
Hy met sy yslike, ronde oë …
Nou lig hy sy fyn voorpootjies en vrywe sy gesig …
Dan wip die vlerkies oop en hy swewe weg.

Eintlik weet ek nie wat `n gebed is nie.
Ek weet hoe om na dinge te kyk,
weet hoe om my in die gras neer te vly,
deur die veld te loop, rustig en geseënd,
want dis wat ek die hele dag gedoen het.
Wat anders moet ek doen?
Alles moet sterf – en veels te gou.

Sê my, wat wil jy doen
met jou enigste, wonderlike, kosbare lewe?

Mary Oliver (”The Summer Day”)

Afrikaanse verwerking: Marie de Kock