Laas nag het ek gedroom

Laas nag het ek gedroom …
Dit was`n pragtige droom
van `n heilige stad, ongelooflik mooi, goed en regverdig.
Daar was `n tuin soos `n ware paradys, vol bome en waterstrome.
Ek het van vrede gedroom, van wêreld-ontwapening, van vergifnis,
die omhelsing van almal in nood,
`n tyd sónder die dood.

Laas nag het ek gedroom …
`n nare nagmerrie van onvergeefde sonde, `n nagmerrie van landmyne en verminkte kinders,
van armes verstote in ellende,
van honger ontheemdes,
van onbetreurde dooies,
`n nagmerrie van woede, rusie, oorloë.

Toe ek wakkerskrik, was U nog God
wat waak oor dag en nag
in oneindigende barmhartigheid.

Ons kom na U
met ons mooiste drome
en ons ergste nagmerries.
Ons vra dat U helende genade ons grootste vrese sal vernietig,
dat U goedertierenheid
ons nagmerries sal verdryf
en ons mooiste drome waar sal maak.

Dankie dat U weer nuutheid bring
oor alles wat oud en dood is in ons.

Wees met ons,
lei ons na U vrede en vertroosting.

Amen

Walter Brueggemann

Afrikaanse verwerking: Marie de Kock